In hierdie uitgawe kyk ons nie net na hoe om ‘n effektiewe strop te maak nie, maar ook hoe om te verseker dat hy veilig is vir die karp. Seker een van die mees algemeenste foute wat meeste hengelaars maak is deur dat hulle Tigernuts of Boilies direk op die hoek probeer haak en nie op ‘n haarstrop nie. Die van julle wat weet lag seker nou lekker maar dit is ‘n feit dat daar nog menige hengelaar is wat nie weet hoe om hierdie ase op die korrekte manier voor te lê nie.
Ons gaan kyk na die basiese haarstrop met veiligheid en koste besparing in gedagte. Kom ons begin met wat jy gaan nodig hê :
• Braid – Hier maak ons gebruik van braid wat spesifiek vir die maak van stroppe op die mark is en NIE van hooflyn braid nie. Ek maak gebruik van SUFFIX se 25lb Sheath Skin braid wat op meeste van jou stroppe gebruik kan word. • Hoeke – Daar is ‘n verskeidenheid hoeke op die mark en baie van hulle, net soos in konvensionele hengel, is meer effektief om die hengelaar te vang as die karp. My persoonlike keuse op hoeke is ‘n produk wat deur Sensation versprei word, die HYABUSA M1 hoeke. Dit is bekostigbaar en die vorm van die hoek maak dit maklik om hom te “align†met die braid. • Silicon tubing - Tubing met verskillende diameter gaatjies is beskikbaar. E-S-P se tubing is van goeie kwaliteit en ons gaan die 0.5 mm gebruik. • Safety Clips – Hier is een deel van die strop waar mens slegs hoë kwaliteit clips gebruik. As jou safety clip nie reg werk nie kan dit beteken dat jy die vis gaan verloor en hom selfs skade kan aanrig. FOX se safety clips is sekerlik die mees betroubaarste wat tans op die SA mark beskikbaar is. • Anti Tangle Tubing – Hierdie het twee funksies op die strop, eerstens om te verhoed dat jou strop koek, maar seker die mees belangrikste, om te verhoed dat jou hooflyn die karp sal beseer. • Boilie Stops – Om te verhoed dat jou aas van die haar af kom. • Gummie – Hierdie word gebruik om jou aas styf teen die boilie stop vas te druk • Braid skêr – Hierdie skêr is spesiaal vir braid gemaak en sny dit baie maklik • Boilie Needle – Maak gebruik van ‘n boilie naald met ‘n armpie wat toevou oor die haak deel.
Nou dat jy weet wat het jy alles nodig kom ons begin met die haarstrop. Sny vir jou so 30cm van die braid af. Die suffix sheath skin het ‘n tipe plastiek lagie op om die braid te beskerm as dit teen struktuur soos rotse skuur. Verwyder 15-17cm van die tubing. Nou op die deel waar die beskermde lagie verwyder is, knoop vir jou ‘n lussie in die braid. Hierdie lussie moet so kort moontlik gemaak word, ongeveer 4-6mm.
Om die haarstrop met die hoek te verbind gaan ons gebruik maak van die “knotless knotâ€. Voor die haarstrop op die hoek geknoop word moet ons besluit watse tipe aas ons op
hierdie strop gaan gebruik. Ek het besluit op ‘n groot tigernut. Ons gaan nou die aas op die haar plaas sodat ons weet hoe ver die haar vanaf die hoek moet wees. Druk nou eers die tigernut en dan die gummie op die naald. Haak die naald in die lussie op die haarstrop en trek die gummie en tigernut oor na die haar. Sit ‘n boilie stop deur die lussie en trek nou die tigernut tot teen die boilie stop. Druk nou die gummie tot teen die tigernut, dit is om te verhoed dat die tigernut kan rond gly op die haarstrop. Indien jy nie gebruik maak van die gummie nie, kan die aas skuif en die boilie stop kan uitval wat dan beteken dat daar niks is om jou aas te verhoed om af te kom nie.
Plaas nou die haar met die ass op die agterkant van die hoek. Los ‘n spasie van ongeveer 8-12mm tussen die buig van die hoek en die tigernut. Druk nou die braid deur die ogie van die hoek. Draai die deel wat jy deur die ogie gedruk het om die skag van die hoek sodat die deel wat na die lussie gaan tussen die braid en die skag vas gevang word. Draai altyd weg van die toegeknypte deel van die ogie in die hoek. 5-8 draaie is genoeg. Druk nou weer die braid deur die agterkant van die ogie op die hoek, en trek styf.
Jy kan nou die tigernut verwyder van die haarstrop. Neem ‘n stukkie silicon tubing van 12mm lank en druk dit oor die knoop. Ons doen dit om die knoop te beskerm. Maak nou ‘n lussie in die braid wat oor bly sodat dit aan die safety clip geheg kan word. Die totale lengte vanaf die hoek ogie tot aan die boonste punt van die nuwe lussie moet nie 5cm oorskry nie.
Ons gaan die safety clip direk aan die hooflyn, of as jy ‘n leader aan het, bind. Sny nou ‘n stuk anti tangle tubing van 50cm lank en plaas dit op die hooflyn(Die anti-tangle tubing word binne in die safety clip in geskuif ). Dit is belangrik dat die safety clip korrek gebruik word anders beteken dit niks. Eerstens plaas ons die stukkie rubber op die hooflyn wat saam die safety clips voorsien is. Nou plaas jy die plastiek meganisme deel op die lyn. Barrel swivels sal ook voorsien word saam met die FOX safety clips. Knoop die barrel swivel aan die hooflyn met ‘n grinner knoop. Druk nou die plastiek meganisme deel terug sodat die barrel swivel in hom in skuif. Druk een van die klein plastiek pennetjies deur die gaatjie in die safety clip sodat die barrel swivel in plek gehou sal word. Hierdie is baie belangrik, indien die safety clip nie in plek gehou word nie sal dit net rond gly op die hooflyn en sal hy al sy funksionaliteit verloor.
Skuif nou die anti-tangle tubing terug, sodat dit binne in die plastiek meganisme in druk. Stoot die gummie af tot teen die tubing om dit in plek te hou. Jou gewig kan nou in die clip in haak en die tubing skuif oor die clip gedeelte om te verhoed dat die gewig te maklik af kom.
Hierdie is ‘n basiese strop wat veilig gemaak is vir die karp, en wat jou nie ‘n arm en ‘n been gaan kos om te maak nie. Alhoewel ek ‘n tigernut as aas gebruik het word dieselfde metode gevolg om haar stroppe te bind vir boilies, particles of pop-ups. Die presentasie sal bietjie verander met pop-ups of as jy die ase krities gaan balanseer maar jy kan meer hieroor uitvind op die forum en op die webwerf.