Ons gaan vis vang – of hengel – of wat jy dit ook al wil noem – ons sê sommer ons gaan dam toe. Hendrik se dam toe. Hy het vroer in die week gebel en gesê die dam het water gekry. Hy weet nie hoeveel nie maar hy kan bo van die huis se kant af sien die dam het water gekry.
Heel pad dam toe is dit die middelpunt van bespreking tussen my en Grumpy. Hoeveel water het die dam gekry. Waar gaan ons kamp as die dam so vol is. Sal ons ons gewone staan plek moet skuif? Wie weet. Ons kan nie wag om daar te kom nie. Ons stop nie eens vir ons gebruiklike halfpad koppie koffie nie. Ek glo nie die die dam het so baie water gekry nie – en dis nie omdat ek ‘n kenner is nie, dis net omdat ek bang is vir die teleurstelling as ons daar kom en die water het regtig net met ‘n poep en ‘n hik gestyg.
Maar mens, wat ‘n gesig! Toe ons uiteindelik die water voor ons sien, spoel die ongeloof oor ons.
Ons kan skaars glo wat ons sien. Grumpy reken die water vlak het met meer as 2 meter gestyg. Waar ons die vorige naweek die Bosparra ( ons waentjie) opgeslaan het, is nou net water!
Die dam loop oor en vorm ‘n spruit agter ons nuwe kamp plek. Snags net voor die slaap jou oorval is dit die laaste ding wat jy hoor – die water wat so kabbel-kabbel oor die klippies.
Nou is ons opgewonde! Kyk, tot ou Sammie (Bad Sam) sou trots gewees het op my. Soos in ‘n rekord tyd het ek my stokke reg (die nuwes wat Grumpy twee weke gelede vir my gekoop het). Hierdie naweek stoot ek verseker my PB op. Grumpy het so bietjie aansporing nodig – hy ly nog aan een of ander vorm van skok, seker maar ‘n soort water skok of miskien is dit net water op die knie of iets. Of miskien is dit strategie. Miskien soek hy die vis se speel plek. Maar ek is haastig. My stokke moet water toe.
Maar 24 uur later besef ons die naweek gaan lank wees. Baie lank. Maar ons is vol moed. Dis mos wat vissermanne doen .Ons hou moed. Ons wag. En ons glo. En ons vertrou. En ons doen alles wat die dominee Sondag in die kerk gesê het ons moet doen – selfs bid. Maar die vis byt nie.
Later besluit ons om maar ons kundigheid na die kos potte toe te skuif. Daar word brood gebak, vetkoeke vir middag ete, ox tail en stampmielies vir aand ete – nou seker nie so lekker soos Andrew sin nie – maar vrek lekker. Maar die vis byt nie. Ons stap later na die ander kant van die dam om die stygende water vlak aan daardie kant te ondersoek. Maar die vis byt nie. Ek neem fotos van spinnekoppies en naeldekokers. Die vis byt nie. Grumpy kry ‘n slang in die voetpadtjie en ons stap so entjie saam met die klein slangetjie wat so desperaat probeer weg kom. Maar die vis byt nie. Ons slaap. En die vis byt nie. Ons staan op. En die vis byt nie.
Teen die derde dag kyk Grumpy my so, en hy kyk my so, en hy loer vir my en hy loer na die Bosparra se kant toe en hy sê: “Vrou, as die vis nie byt nie moet ons maar koekies bak.†En toe’s dit tyd vir “handtjies klap en koekies bakâ€. Maar die vis byt nog steeds nie!.
Die naweek staan nou einde se kant toe. Ja ons is so bietjie teleurgesteld. Ek jok! Ons is baie , vrek baie teleursgesteld. Maar dis ook mos nou maar deel van die sport .
Ons pak later op om huis toe te gaan . Die vis byt nog steeds nie.
Ek dink teen hierdie tyd is dit nou baie duidelik dat DIE VIS NIE BYT NIE!
Op pad terug huis toe is daar ‘n nuwe onderwerp van bespreking. Hoekom het die vis nie gebyt nie. En wanneer gaan ons weer (vis vang ouens - nie koekies bak nie)!
Ons gaan volgende naweek weer dam toe. Met raad en daad van almal af.
En Grumpy my ou man, hierdie keer gaan daar nie tyd wees vir koekies bak nie!